Kaap toe

Die landskap lê vaalbruin in die binnelandse winterdroogte onder ons. Die sinkdakke skitter in die son wat neerbak en ‘n halfleë rivier seil stadig deur die verdorde lande. Daar’s ‘n landery wat die boer al half begin ploeg het en die donkerbruin rye lê soos lyne in ‘n brief wat iemand begin skryf het en toe alles gaan doodtrek het.

Liewe jy

Ek hoop dit gaan nog goed met jou en almal wat vir jou belangrik is.

Ek wou maar net se ek mis jou …. Ek het aan jou gedink en wou maar net laat weet … Ek wou nog sê dat … Ek hoop ons sien mekaar weer binnekort …

Amper soos die outydse weergawe van ‘n deleted WhatsApp voice note. Die rivier sluk al hoe meer water en word vetter soos wat dit see toe kronkel. Dit is ook waarnatoe ek op pad is. See toe. Kaap toe.

Daar aan die voet van Tafelberg, met sy dun straatjies en taxi’s wat jou Wynberg toe wil neem, gaan ek kuier. Dit is nou deel van my Vallei van Verlange. Ek onthou nog hoe ek in die vroeë lente terug huis toe van kampus af gestap het. Die wêreld groen, geil en vol blomme. Die voëls terug van hul winterreise, en die son wat so deur die nuwe groen blare breek. Die ou Engelse cottages met hulle patroon-finishings en die berg wat in die agtergrond pryk.

Wanneer ek in die winter daagliks hierdie roete meegemaak het, onthou ek die geel port-jackson-blomvlokkies op middel kampus en die varkore in die vleie. Ons tuin het ook ons elke jaar verras met varkore in die middel van die grasperk en sneeuklokkies by die voordeur. Ek onthou hoe ons so paar keer ewe gesellig by die brandende kaggel gesit en gesels het.

My kamervenster was by ‘n yesterday-today-and-tomorrow boom gewees, en in die somer, wanneer my vensters wyd oop was, het die bries die soet reuk na binne gedra. Ons het dikwels ‘n laataand rit na The Creamery geneem, en by hulle lang toonbank, met ‘n roomys in die hand, gesit en gesels in die sagte lig, soos wat die son oor Kaapstad sak.

In die herfs onthou ek die blare op kampus. Die geboue in rooi-gekleed, en die sypaadjies bestrooi met goudgeel konfetti. Die lug was altyd so blou-blou met wit watte wolke en die son het amper skerper, helderder geskyn. Ek onthou hoe ons nog in Junie in ons  tweede jaar gaan piekniek hou het in Kirstenbosch, met kortmou T-hemde en sonbrille.

Die rivier het nou dam geword en die bruin veld lê opgedeel in landerye, geskei deur doringdraad. Reguit lyne behalwe waar dit teen die dam grens, of deur die rivier geskei word. So (bietjie filosofies en heavy) soos die lewe. Ons beplan van A na B. Reguit. Prakties. So kort as moontlik. En dan word ons onderbreek deur dinge soos riviere en damme, wat dikwels tot goeie goed lê, maar ook moeilik kan wees om oor te steek, en in vloede kan afkom en als verwoes. Maar less depressy, more progressy.

Daar lê ‘n opgedroogde dam wat die buitelyne soos ‘n blom lyk. ‘n Bruin pioenroos. Die middel gevlek deur die mineraal neerslae, geverf soos wat die water verdamp het.

In de Kaap is die lyne amper meer natuurlik, of dalk is dit net ek. Alles is groen en daar is water in die damme. Kaapstad is bedek met ‘n wolkkombers, en Tafelberg steek net-net uit. Toe ons deur die kombers breek, vlieg ons oor die see, en die son reflekteer in deur die kajuitvenster.

Ek is hier.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s