Mý vallei van verlange

Vanoggend sit ek in ‘n ontvangslokaal en wag vir ‘n afspraak. Soos my generasie se norm luister ek na musiek met my oorfone. Toevallig luister ek vandag na RSG toe ek een van die aangenaamste leesstukke hoor wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Dit is ‘n voorlesing van Vallei van Verlangegeskryf en voorgelees deur  Chris Barnard.

In die stuk praat hy van die plek waar hy groot geword het en hoe dit verander het. Hy skryf van “ná 50 jaar nog dieselfde watervoor, maar nie meer dieselfde water nie.”
Toe ek dit hoor duik herinneringe van my laerskooldae op. Ons huis wat skuins oor die skool was. Hoe ek op snikhete warm dae van skadukol tot skadukol huis toe gehardloop het, omdat ek verkies het om kaalvoet skool toe te gaan. Ek onthou hoe ek my tas in my kamer neergegooi het en my baaikostuum aangetrek het. Dan het ek en my sussies die middag gaan omswem. My ma het altyd daar langs die swembad vir ons waatlemoensstukke gebring of sulke gesnyde worsies, komkommer, tamaties en kaasblokkies.
In die winter onthou ek weer hoe ek soggens my sweetpak voor die koolstoof in die gang warm gemaak het. Die rugbyveld het altyd as ek skool toe gestap het so onvriendelik en vaal gelyk in die Transvaalse winter. Die bome wat soos geraamtes teen die blou hemel pronk. Die droë koue wat sommige oggende ‘n lagie ryp oor grasperke laat. Die wasems as jy uitasem. In die middae het ek gedurig in die laaste sonstrale op my bed gelê en lees. Frits Deelman, Harry Potter, en die Hardy Boys was gedurig my getroue geselskap.

Dit is nou al meer as sewe jaar vandat ons getrek het. Ons gaan gewoonlik in Junie-vakansies kuier. Ons huis staan nog waar hy altyd was. Die heining en die tuin is anders, meer getem, meer konvensioneel. Die roosbedding is nou ‘n grasperk, onvriendelik en vaal as ons daar verbyry. Die skool lyk vir die meeste parte nog dieselfde, dis net die kinders wat verander het. Meeste van ons huisvriende bly nog waar hule gebly het. Hulle huise lyk ook maar dieselfde. Dit is ook net die kinders wat anders is. Hulle is nou almal op hoërskool of universiteit. Selfs die ouers voel nog vir my dieselfde. Dieselfde stories en musiek. Dieselfde roetines van “ons gaan nou braai” en dan word die vuur eers aangesteek. Dieselfde gesprekke tydens ete. Al wat verander het is hoelaat ons na die etes loop en die hoeveelheid bottels wat na die tyd leegstaan.

As ek deur die strate ry dan doem daar herinneringe op, so asof hulle aan die geboue kleef soos lakens aan ‘n wasgoeddraad met ‘n wind wat dreig-dreig om hulle weg te waai. Die huis waar Tannie Elbie met die mooi tuin gewoon het. Die vriendin by wie se huis ek nog die lekkerste popgespeel het. Die kerkbasaar waar daar meer as vyf tipes potjiekos was. Die dramajuffrou se huis waar ek geleer gedig opsê het. Die fliek waar ons altyd gaan fliek het. Die tuin waar ek en my vriendin in die moeilikheid gekom het omdat ons ‘n vuur vir ons vyesop wou maak.

Pretoria is beslis een van my valleie van verlange. Die goue waas van kindwees is beslis oor dit gesluier. Dit is dieselfde grasperke maar nie dieselfde gras nie. Dis dieselfde strate maar dis nie meer mý strate nie.

My laaste-eerste-dag as ‘n voorgraadsestudent by UCT (hopelik)

Vandag begin klasse by UCT. Eerstejaars gaan verward rondskarrel met persoonlike beloftes dat hulle elke klas gaan bywoon. Vriende wat mekaar maande laas gesien het gaan als in ‘n paar minute probeer opvang. Vrae soos “wat het jy Desember gemaak?” en “vang jy nie graad aan die einde van die jaaar nie?” gaan gedurig in gesprekke opduik.

Ek is nou in my finale jaar en ek wonder of ons anders behandel gaan word. Aangesien ons almal nou vakke het op derdejaarsvlak, waarmee jy dus major, gaan hulle belangstel in ons keuse om honneurs te doen of nie? Gaan die klasse meer intiem wees want ons is minder as dertig studente? Gaan die werk meer teoreties of meer prakties toepasbaar word?

Dis die seisoen van handboeke soek en penne aankoop. Almal se parkeringskywe is nog netjies vasgeplak en almal se gees loop nog hoog. Ek hoop ek sal díe tyd kan onthou. As dit nog somer op kampus is en die berg omring is deur ‘n wolklose see van blou. Die spikkelskadu wat oor my gesig speel soos wat ek met Japonika-laan opstap. Die Summerhouse wat triomfantlik in sig kom, reguit gelyn met die piek van die berg.Die effe waserigheid wat in die lug hang as gevolg van die vure wat altyd die tyd van die jaar in die provinsie woed.

Ek het vandag ‘n gevoel van tevredenheid in my siel. Die take het nog nie begin inrol nie. Die winter het nog nie begin byt nie. Dis nie te warm nie en alles lyk goed. Ja, die toekoms lyk goed.

Mengelmoes van gebeure

Die afgelope maand was dol gewees. Ek het ‘n  week lank saam met ‘n internasionale student van Duitsland en ‘n reisende universiteitsstudent van Chile rondegereis, nog ‘n naweek saam met die Duitser en twee van my huismaats weggebreek, verskeie oriënteringsweek aktiwiteite vir my kerk gereël en dinge in orde probeer kry vir die begin van klasse.
Tussendeur het ek begin om ‘n Engelse ou in graad tien vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal te tutor, en dit gebruik as ‘n verskoning om Die Pro van Leon de Villiers te lees. Ek het ook Sweef en Ander Verhale (sy voorgeskreweboek) deurgelees en my verlekker vir Afrikaans.
Ek het ook ons digs (‘n tipe van kommune) se kruietuin probeer regruk. Ek het ingeskryf vir ‘n reisjoernalistiekkompetisie (Tasting the road for the first time) en ek het besluit dat ek volgende jaar oorsee wil gaan werk vir ‘n jaar (of twee).
Ek het twee keer gaan snorkel en besluit om by UCT se onderwaterklub aan te sluit en om my Open Water duikkwalifikasie te kry. Nadat ek laasjaar, in Sodwana, Coral Divers se Resort Course gedoen het, het die idee van onderwaterargeologie, en duik in die algemeen, my al hoe meer begin interesseer. Tydens my snorkelsessies het ek ook mossels uitgehaal en twee verskillende resepte geleer om dit in te gebruik.
Ek het my eerste spoedboete ontvang en besluit dis nie die moeite werd om te jaag nie. Te danke hieraan het ek besef ek weet niks van motorwedrenjaery nie, toe my pa my met meer as vyf verskillende jaers vergelyk het en ek geen idee gehad het van wie hy praat nie.
Ek het my eerste First Thursdays in maande bygewoon en my liefde vir Kaapstad weer laat opvlam. Ek het kuns by die US Woordfees gaan besigtig en gesien hoe iemand tuimeldroeërwolletjies gebruik om beeldskone kuns te maak. Ek het my liefde vir Afrikaanse poësie herontdek in Stellebosch se botaniese tuin met DJ Opperman se gedig, Te klip om te boom ,  en Elizabeth Eybers se gedig, Verhaal.
Ek het ‘n volstruiseierkraaletjie gevind in die argeologies materiaal wat ek in die argeologie departement sorteer. Ek het ook uitgevind dat ek 10 kursusse hierdie jaar sal moet doen om graad te vang aan die einde (waar die gewone derdejaarstudent net 6  het). Twee van hierdie kursusse gaan vereis dat ek fisiese veldwerk gaan moet doen wat redelik opwindend is maar ook baie veeleisend.

Ek het dit ook gemis om te blog en sal probeer om meer getrou te skryf in die komende maand.