Hierdie blog.

Hierdie blog gaan in Afrikaans en Engels wees, soos wat die mood my vat.

Vir die taalpuriste vra ek onverskoning, maar as taalkundige student sien ek myself as ‘n deskriptivis eerder as ‘n preskriptivis. Partykeer, as die blog post dit vereis, sal ek in vlot Afrikaans ‘n opstel spin. As die blog post die dag egter handel oor ‘n gebeurtenis wat ek op kampus gewaar het, of in die strate van die Moederstad, dan gaan ek die Engels of Afrikaans van almal gebruik.

Hierdie blog gaan handel oor dinge en goeters.

Dinge en goeters sluit aktuele gebeure, reise, drome, idees, en aktiwiteite in. Dinge en goeters wat gebeur. Dinge en goeters wat ek hoop gebeur. Goeters en dinge wat amper gebeur het.

Hierdie blog gaan foto’s hê.

Wie hou nou van ‘n leesboek sonder prente? Selfs al is dit net ‘n lynskets op die voorblad of ‘n foto van die skrywer op die agterblad. Ek is gaande daaroor om ‘n boek met iets visueels te assossieer. Wat sou boeke soos Ikarus of Koors wees sonder Deon Meyer wat agterop vir jou kyk. Hoe anders sou Harry gelyk het sonder die bekende boekomslae van die Harry Potter-reeks? Sketse en foto’s verander die vlieënde gedagte-spoke in figure en karakters.

Hierdie blog gaan partykeer wel deurdag wees en ander kere effe deurmekaar.

Ek gaan uiting gee aan gedagtes wat rondhol. Boeke wat onlangs gelees is, gaan bespreek word. Flieks gaan aangehaal word. Hopelik gaan nuwe karakters geskep word. Dalk gaan DIY-projekte ‘n blog post of twee oorheers.Ek sal dalk skryf oor die blomme in ons tuin, of die op die berg. Ek gaan dalk nostalgies raak as ek ‘n koeksister eet en een-of-ander resep uit ‘n kas gaan grou en dit met julle deel. Wie weet wat gaan gebeur??

KODAK Digital Still Camera
Blomme by die suidersee.

Hierdie blog is ‘n leë boek wat gevul moet word en jy het sopas die eerste bladsy gelees.

4 thoughts on “Hierdie blog.

Leave a reply to Louise Cancel reply